Die Kerk aan die voet van Leeukop (1891)
Teen die hang van Leeukop leef die klein gemeente van Tamboerskloof. Ons kan ons
self beskryf as ‘n plattelandse gemeente in die groot stad. Ons is klein in getal en klein in omtrek, ongeveer 250 lidmate in ‘n radius wat minder as ‘n kilometer vanaf die kerkgebou strek. Tamboerskloof –gemeente het egter ‘n groot geskiedenis met ‘n nóg groter hart. ‘n Hart vol liefde en warmte. Ons is getuies en bevoorregte erfgename van die liefde van Jesus Christus, ons Here. Meer as ‘n honderd jaar gelede is hierdie gemeente gestig. Sedertdien het die Here Jesus ons geloofsvoorouers onderhou en opgebou in Hom. Ons wat vandag nog hier ‘n tuiste vind, ervaar dit nogsteeds.
Hier in Tamboerskloof is almal welkom. Ons eredienste is gerig op oud en jonk. Hier vind mense ‘n geestelike tuiste waar hulle die Here Jesus kan aanbid. Tamboerskloof is ‘n middestad-gemeente met die warme hartlikheid en gasvryheid van die platteland. Hier kom mense van oor die hele land bymekaar om soos voëls in ‘n nes ‘n tuiste te kom skep. Hier gee mense om vir mekaar se lief en leed. Hier is kinders welkom. Ons doop ons kinders hier, huil saam, is saam bly oor ons vreugdes wat die Here vir ons gee en ons begrawe ons geliefdes uit hierdie gemeente. Oor die jare heen het ons gesien dat tipies aan ‘n stadsgmeente mense die nes verlaat, maar ons ondervinding is dat hulle almal deur die jare heen kontak hou met die gemeente. Hoekom? Omdat hulle ontdek dat hierdie gemeente die Here Jesus baie liefhet.
Ons Sending projek: Siyathanda
Tamboerskloof Gemeente gee werklik om! Ons reik uit na mense in nood. Ons glo daaraan dat ons geroep is nie ter wille van onsself nie, maar ter wille van die Koninkryk. Die Here Jesus seën ons met so baie, daarom reik ons uit na ander. Ons bestaan ... ter wille van die wêreld.
Siyathanda is ‘n Xhosa woord wat beteken: “Ons gee om”. Met hierdie projek reik ons uit na die gemeenskap, die kom van Kaapstad en die wêreld.
Die Gemeenskap:
Niemand klop aan ons deur sonder om gehoor te word en gehelp te word nie. Elke hulpsoekende word gehoor en op ‘n verantwoordelike wyse gehelp. Baie vreemdelinge kan daarvan getuig dat hierdie gemeente hulle gehelp het toe hulle in nood was.
Die Kom van Kaapstad:
Hulp aan die gemeenskap van Ysterplaat-Suid:
Deur die jare het Tamboerskloof ‘n hart ontwikkel vir hierdie gemeente. Ons help voorsien aan ‘n kosbank, maatskaplike werker en ‘n Siyathanda kantoor op die perseel. Mense wat hulp benodig word deur ‘n maadskaplike werker gesien en dan uit hierdie middelle gehelp.
Hulp aan Ruyterwacht:
Ons ondersteun die plaaslike Hoërskool, De Ruyter. Daar is kinders wat min het en letterlik honger skooltoe gaan. Ons help om ‘n voedingsprojek by die skool te ondersteun.
Taman kinderbediening:
Ons het die nood raakgesien van straatkinders in die strate van Kaapstad. Ons ondersteun hierdie bediening omdat ons getrou probeer wees aan die Here Jesus se opdrag: “Laat die kindertjies na my toe kom.”
Straatwerk:
Ons gemeente lede is self betrokke by Straatwerk. Ons samel ook klere en voedsel in om hierdie projek te ondersteun.
Betrokkenheid by wêreldsending:
Een van ons ouderlinge, Danie van Dyk, besoek jaarliks Angola en reik uit met die Jesus film. Met ‘n vrag vol Bybels vertrek hy elke jaar om in gebiede waar die kerk nog nie kon uitreik nie, die Woord van die Here te bring.
