Kort Geskiedenis van die Gemeente
Die NG gemeente Tamboerskloof het lank as die sogenaamde De Nieuwe Kerk, Kaapstad, bekend gestaan en het ontstaan uit die bou van ‘n tweede of “nieuwe” kerk vir die Groote Kerk-gemeente.
Vanweë die talle lidmate wat in die ou kerk nie sitplek kon kry nie, het dr. Abraham Faure die oplossing gesien in die bou van ‘n tweede of nuwe kerk. Die hoeksteenlegging is deur die goewerneur, sir Galbraith Lowry Cole, op 18 April 1833 in die teenwoordigheid van 12 000 mense waargeneem. Dit word gereken as een van die indrukwekkendste in geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Die gebou is eers in 1847 teen ‘n koste van £8 419 voltooi.
Die kerk is geleë in wat destyds reeds ‘n puik deel van die stadskom was en het ‘n besondere opbloei in die jare tussen 1860 en 1865 beleef. Tydens ds. A.D. Lückhoff sr. se bediening van 1875 tot 1887 het dit vir alle praktiese doeleindes ‘n afsonderlike gemeente geword met ‘n bepaalde grens, ‘n kommissie van bestuur en met ds. Lückhoff as sy eie predikant.
Ná ‘n taamlike bittere stryd het die stigting van ‘n selfstandige gemeente op aanbeveling van die 1890-Sinode plaasgevind op 1 Januarie 1891. Die gemeente het weer ‘n opbloei beleef. ‘n Pastorie is in Kohlingstraat gebou terwyl ene mev. Wicht ‘n pragtige saal aan die gemeente geskenk het. Die Wichtsaal het ‘n belangrike plek in die godsdiens en kultuurlewe in Kaapstad ingeneem.
Die eerste Afrikaanse diens in die Nieuwe Kerk is in 1921 deur dr. S.H. Rossouw waargeneem na aanleiding van ‘n petisie deur die studente by die kerkraad ingedien.
Ná 1910 tot vandag toe het hierdie gemeente ontwikkel in ‘n selfstandige gemeente wat oor baie jare vir baie mense ‘n geestelike tuiste gebied het.



