Teen die hang van Leeukop leef die klein gemeente van Tamboerskloof. Ons kan onsself beskryf as ‘n plattelandse gemeente in die groot stad. Ons is klein in getal en klein in omtrek, ongeveer 250 lidmate in ‘n radius wat minder as ‘n kilometer vanaf die kerkgebou strek. Tamboerskloof –gemeente het egter ‘n groot geskiedenis met ‘n nóg groter hart. ‘n Hart vol liefde en warmte. Ons is getuies en bevoorregte erfgename van die liefde van Jesus Christus, ons Here. Meer as ‘n honderd jaar gelede is hierdie gemeente gestig. Sedertdien het die Here Jesus ons geloofsvoorouers onderhou en opgebou in Hom. Ons wat vandag nog hier ‘n tuiste vind, ervaar dit nogsteeds.

Hier in Tamboerskloof is almal welkom. Ons eredienste is gerig op oud en jonk. Hier vind mense ‘n geestelike tuiste waar hulle die Here Jesus kan aanbid. Tamboerskloof is ‘n middestad-gemeente met die warme hartlikheid en gasvryheid van die platteland. Hier kom mense van oor die hele land bymekaar om soos voëls in ‘n nes ‘n tuiste te kom skep. Hier gee mense om vir mekaar se lief en leed. Hier is kinders welkom. Ons doop ons kinders hier, huil saam, is saam bly oor ons vreugdes wat die Here vir ons gee en ons begrawe ons geliefdes uit hierdie gemeente. Oor die jare heen het ons gesien dat tipies aan ‘n stadsgmeente mense die nes verlaat, maar ons ondervinding is dat hulle almal deur die jare heen kontak hou met die gemeente. Hoekom? Omdat hulle ontdek dat hierdie gemeente die Here Jesus baie liefhet.

Kort oorsig 

Die NG gemeente Tamboerskloof het lank as die sogenaamde De Nieuwe Kerk, Kaapstad, bekend gestaan en het ontstaan uit die bou van ‘n tweede of “nieuwe” kerk vir die Groote Kerk-gemeente.

Vanweë die talle lidmate wat in die ou kerk nie sitplek kon kry nie, het dr. Abraham Faure die oplossing gesien in die bou van ‘n tweede of nuwe kerk. Die hoeksteenlegging is deur die goewerneur, sir Galbraith Lowry Cole, op 18 April 1833 in die teenwoordigheid van 12 000 mense waargeneem. Dit word gereken as een van die indrukwekkendste in geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Die gebou is eers in 1847 teen ‘n koste van £8 419 voltooi.

Die kerk is geleë in wat destyds reeds ‘n puik deel van die stadskom was en het ‘n besondere opbloei in die jare tussen 1860 en 1865 beleef. Tydens ds. A.D. Lückhoff sr. se bediening van 1875 tot 1887 het dit vir alle praktiese doeleindes ‘n afsonderlike gemeente geword met ‘n bepaalde grens, ‘n kommissie van bestuur en met ds. Lückhoff as sy eie predikant.

Ná ‘n taamlike bittere stryd het die stigting van ‘n selfstandige gemeente op aanbeveling van die 1890-Sinode plaasgevind op 1 Januarie 1891. Die gemeente het weer ‘n opbloei beleef. ‘n Pastorie is in Kohlingstraat gebou terwyl ene mev. Wicht ‘n pragtige saal aan die gemeente geskenk het. Die Wichtsaal het ‘n belangrike plek in die godsdiens en kultuurlewe in Kaapstad ingeneem.

Die eerste Afrikaanse diens in die Nieuwe Kerk is in 1921 deur dr. S.H. Rossouw waargeneem na aanleiding van ‘n petisie deur die studente by die kerkraad ingedien.

Ná 1910 tot vandag toe het hierdie gemeente ontwikkel in ‘n selfstandige gemeente wat oor baie jare vir baie mense ‘n geestelike tuiste gebied het.

Ons antieke doopfont het ‘n draai gemaak op die TV Show Antikwaar met Stephan Welz.

Bosman leraarspaar van 1895 – 1899

De Nieuwe Kerk se hoeksteen is op 18 April 1832 gelê ten aanskoue van ‘n skare van 12 000. Dit is eers einde 1847 voltooi.

 

Ds. Christoffel Fredrik Jacobus Muller, eerste leraar (1891 tot 1900) en later hoogleraar aan die Kweekskool.

P.G.J. Meiring, leraar van 1894 tot 1897.

Dr. E.E. van Rooyen, leraar van 1916 tot 1920 toe hy aangestel is as hoogleraar aan die Kweekskool. Hy was ook ‘n vertaler van die Bybel in Afrikaans.